Chromatofoor

Chromatofore is selle of onderdele van selle wat kleurstof bevat. Dit word ook dikwels melanofore genoem. Kleurselle wat tot kleurveranderinge aanleiding gee, kom voor in die huid van laer diere, soos visse, reptiele en amfibieë. In sommige plantselle kom daar ook groen, geel, oranje, bruin of rooi gekleurde protoplasmatiese liggaampies voor. Chromatofore word egter nie in die laer plante soos swamme, skimmels en bakterieë aangetref nie.

Tydens die vorming van plantaardige selle ontstaan plastiede, wat deur middel van deling in die sel kan vermeerder. 'n Plastied bestaan uit protoplasmaweefsel wat deur 'n dubbele membraan omring word. By die verdere ontwikkeling van plastiede kan drie soorte chromatofore ontstaan, naamlik leuko-, chloro- en chromoplaste:

  1. Leukoplaste: is pigmentlose plastiede wat in alle kleurlose dele van plante aangetref word.
  2. Chloroplaste: se kenmerkende groen is toe te skryf aan die teenwoordigheid van die pigmente chlorofil a en chlorofil b. Die chloroplaste speel 'n belangrike rol in die fotosintese van groen plante.
  3. Chromoplaste: is gewoonlik geel tot oranje van kleur. As gevolg van veranderinge in die pigment kan chromoplaste uit chloroplaste ontstaan. Saam vorm hierdie plastiese die plantaardige chromatofore.

Die struktuur van die chromatofore kan slegs met behulp van 'n elektron mikroskoop bepaal word. Chromatofore word deur 'n dubbele membraan van die omringende sitoplasma geskei.

Die inhoud van die chromatofoor is 'n homogene proteïnagtige matriks, die stroma, waarin stapels membraanlamellas voorkom. Hierdie lamellas word tilakoïede genoem. Die lamellas is in die verskillende soorte chromatofore verskillend gerangskik.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search